Die diskoers oor armoede in die sentrale en latere Middeleeue

Die oogmerk van hierdie artikel is om 'n diskursiewe ontleding van armoede in die sentrale en laat Middeleeue (laat 11de eeu tot middel 15de eeu) aan te bied. Armoede word hier dus nie bloot as 'n histories-ekonomiese kategorie ondersoek nie maar ontleed aan die hand van die konseptualisering van armoede, oftewel die wyses waarop daar in hierdie laaste twee periodes van die Middeleeue oor armoede nagedink is. Die diskoers oor armoede in hierdie twee periodes het in vyf aanduibare fases verloop. Teen die agtergrond van die ideëhistoriese kenmerking van armoede in die vroeë Middeleeue as 'n toevallige verskynsel of 'n aantal toevallige omstandighede, vind daar eerstens vanaf die middel van die 10de eeu 'n diskursiewe verskuiwing plaas op grond van drastiese omwentelinge in die landbou en handel. Die "nuwe armes" ontstaan gevolglik uit 'n "klas" grondbewerkers en handearbeiders wie se sosioëkonomiese posisie in die 12de eeu druk hersien is. 'n Begripsontwikkeling, grootliks teologies en juridies van aard, wat berus het op 'n betreklik eenvoudige onderskeid tussen heer en dienaar, of dominus en servus, het in die sentrale Middeleeue die genuanseerde diskursiewe register van die vroeë Middeleeue vervang. Terwyl armoede in die vroeë Middeleeue verstaan is as die gevolg van een of meer toevallige faktore, is dit in die 12de eeu vereenvoudig tot 'n verhouding, naamlik tussen heer en dienaar. Armoede was nou 'n "nuwe" ekonomiese probleem wat so doeltreffend moontlik met hierdie elementêre onderskeid tussen dominus en servus aangepak moes word. Tweedens is armoede in die 12de eeu uitdruklik in verband gebring met 'n "minimummatriks", wat die minimumhoeveelheid beboubare grond moes aandui wat 'n individu of 'n groep aanverwante individue vir basiese lewensonderhoud nodig gehad het. Armoede is gevolglik, vir die eerste keer in die Middeleeue, gedefinieer aan die hand van die "vermoë tot selfonderhoud". Hiermee is die definiëring van armoede in ekonomiese terme onherroeplik in die sentrale en latere Middeleeuse diskoers gevestig. Derdens is verset teen sowel hierdie ekonomisering as die kerk en kloosterwese se versuim om die "nuwe armoede" krities aan te pak van stapel gestuur deur aweregse godsdienstige bewegings wat juis in reaksie teen die "nuwe armoede" in die laat 12de en 13de eeu tot stand gekom het. Die ideaal van "vrywillige armoede" is deur onder meer die begyne, Waldense en skoolordes voorgehou ten einde enige assosiasie met welvaart op te skort, juis deur van alle vorme van eiendomsreg afstand te doen en 'n lewe van beslissende solidariteit met die armes te lei. Hierdie verset is, vierdens, spontaan verhewig deur die Franciskaanse orde se konfrontasie in die 14de eeu met pous Johannes XXII oor die orde se verstaan van die verhouding tussen eiendomsreg en gebruik van goedere in besit (usus facti en ordo habeat usum), wat as die spitspunt van die diskoers oor armoede in die sentrale en latere Middeleeue voorgehou sou kon word. Laastens is die 14de-eeuse ontwerp van 'n minderwaardige minderheidsgroep - "die armlastiges", naas die algemene neiging om "mindere minderhede" op grond van etniese, godsdienstige en geslagsidentiteit in die betrokke eeu te skep - 'n aanduiding van die afloop van die diskoers oor armoede in die sentrale en latere Middeleeue. Wat eens geag is die gevolg van onwillekeurige en toevallige faktore te wees, is dus aanvanklik tot 'n "verhouding" gereduseer, daarna tot 'n "klas" geëkonomiseer, en uiteindelik neerhalend as 'n "minderheid" bestempel.

Saved in:
Bibliographic Details
Main Author: Beukes,Johann
Format: Digital revista
Language:Afrikaans
Published: Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns 2022
Online Access:http://www.scielo.org.za/scielo.php?script=sci_arttext&pid=S0041-47512022000200002
Tags: Add Tag
No Tags, Be the first to tag this record!