Die invloed van ʼn intervensieprogram op Graad R-opvoeders se ervaring ten opsigte van professionele ontwikkeling in spelgebaseerde geletterdheid

Hierdie studie ondersoek die invloed van ʼn intervensieprogram op Graad R-opvoeders se ervaring van hul professionele ontwikkeling. ʼn Intervensieprogram is saamgestel op grond van basislyndata omtrent deelnemers se voorkennis van spelgebaseerde geletterdheid, die deelnemers se vrese en bekommernisse omtrent die volg van ʼn spelgebaseerde benadering vir Graad R-leerders, asook die deelnemers se behoefte betreffende die onderrig van spelgebaseerde geletterdheid. Die intervensieprogram is voorts deur middel van deelnemende aksienavorsing ontwerp. Aangesien die intervensieprogram op die professionele ontwikkeling van opvoeders fokus, is daar van drie modelle as teoretiese raamwerke gebruik gemaak. Die CRASP I- en CRASP II-modelle fokus op die professionele ontwikkeling van opvoeders, terwyl die bekommernissegebaseerde model van onderwysersopleiding opvoeders bewus maak van moontlike vrese en bekommernisse ten opsigte van hul onderrig en hulle dan help om hierdie vrese te oorkom. Empiriese data is deur middel van kwalitatiewe data-insamelingsmetodes gegenereer. Die metodes het navorsingsrefleksiejoernale van die deelnemers en die navorser, samewerkende besprekings, semigestruktureerde fokusgroeponderhoude, observasie, oopeindevrae en oopeinde-onderhoude ingesluit. Die bevindinge van die studie dui daarop dat die deelnemers die intervensieprogram baie positief beleef het. Die bevindinge dui verder daarop dat die deelnemers na afloop van die intervensieprogramme meer insig in leerders se agterstande asook insig in hul eie onderrigmetodes gekry het. Die deelnemers aan die studie se selfvertroue in die benutting van spelgebaseerde onderrig het verbeter sodat hulle meer doelgerig kon onderrig en beplan. Die deelnemers het verder daarop gewys dat hul kennis in so ʼn mate verbeter het dat hulle leerders met uitdagings beter kan identifiseer en dienooreenkomstig kan ondersteun. Die studie, bevindinge en aanbevelings kan ʼn bydrae lewer tot die professionele ontwikkeling van opvoeders betreffende die onderrig van spelgebaseerde geletterdheid.

Saved in:
Bibliographic Details
Main Authors: Veldsman,Anienie, van Heerden,Judy
Format: Digital revista
Language:Afrikaans
Published: Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns 2019
Online Access:http://www.scielo.org.za/scielo.php?script=sci_arttext&pid=S0041-47512019000100006
Tags: Add Tag
No Tags, Be the first to tag this record!