Die invloed van geslag, ras en sosio-ekonomiese status op visueel-motoriese integrasie van nege- tot 10-jarige leerders: Die NW-CHILD studie

Visueel-motoriese integrasie, visuele persepsie en motoriese koördinasievaardighede toon ʼn sterk verwantskap met akademiese prestasie en sukses. Dié verwantskap lyk of dit leerders met ʼn lae sosio-ekonomiese status (SES), negatief beïnvloed. Die doel van dié studie was om die invloed van geslag, ras en sosio-ekonomiese status op visueel-motoriese integrasie van nege- tot 10-jarige leerders, woonagtig in die Noordwes Provinsie van Suid-Afrika, te bepaal. Leerders in Graad 3 en 4 (n=865; 457 seuns en 408 meisies, 9.9 jaar, sa=0.42), is as deel van die NW-CHILD longitudinale studie met die "The Developmental Tests of Visual-Motor Integration, Fourth Edition (VMI-4)" geëvalueer. Resultate is geanaliseer met "Statistica for Windows" (2014). Onafhanklike t-toetsing het die visueel-motoriese integrasie status vir die groep bepaal, asook per geslags-, ras en SES afsonderlik. Tweerigting frekwensietabelle het leerders in verskillende vaardigheidskategorieë vir visueel-motoriese integrasie, visuele persepsie en motoriese koördinasie geplaas. Resultate van dié studie toon dat leerders (onafhanklik van geslag, ras of SES) hoofsaaklik in die gemiddelde prestasie kategorie vir al drie vaardighede presteer het. Seuns het betekenisvol beter gevaar tydens visueel-motoriese integrasie (p≤0.001; d=0.22) met geen verdere betekenisvolle geslagsverskille nie. Ras het ʼn invloed gehad op visuele persepsie en motoriese koördinasie prestasie (p≤0.001; d=0.29 en p≤0.001; d=0.39), waar die wit leerders betekenisvol beter gevaar het. Lae SES het verder ook ʼn statistiese (p≤0.001) en klein prakties (d≥0.3) betekenisvol negatiewe invloed op al die vaardighede gehad. Die studie het bevind dat ras en lae SES die grootste negatiewe invloed op leerders se visueel-motoriese integrasie status uitgeoefen het.

Saved in:
Bibliographic Details
Main Authors: Van Wyk,Yolanda, Coetzee,Dané, Pienaar,Anita E.
Format: Digital revista
Language:Afrikaans
Published: Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns 2017
Online Access:http://www.scielo.org.za/scielo.php?script=sci_arttext&pid=S0041-47512017000300010
Tags: Add Tag
No Tags, Be the first to tag this record!