S.J. Naudé se Alfabet van die voëls (2011) - 'n Hibried tussen die roman en die kortverhaalbundel. (Deel 1)

Die sosiokulturele en -politieke verband wat daar tussen literatuur en die samelewing bestaan, plaas postmoderne literatuur in 'n direkte verhouding met die moderne wêreldbeskouing waarvolgens daar 'n toenemende behoefte na en tendens van grensoorskryding is. In Naudé se kortverhaalbundel Alfabet van die voëls (2011) kom grensoorskryding op al drie vlakke van die narratologie (storie, verhaal en vertelproses) voor. Aangesien die individuele verhale in Naudé (2011) se bundel langer as die normale kortverhaal is, is daar wat die afsonderlike verhale betref 'n grensoorskryding tussen die kortverhaal en die roman. Die afsonderlike verhale in Naudé se bundel fokus ook nie altyd, soos wat dikwels in kortverhale gebeur, net op een karakter, een plek, 'n spesifieke tyd of draaipunt nie. Alhoewel die afsonderlike verhale in S.J. Naudé se kortverhaalbundel Alfabet van die voëls (2011) as selfstandige verhale gelees kan word, lei die feit dat dieselfde temas deurlopend in die verhale aanwesig is, dat dieselfde karakters in meer as een verhaal optree, asook die feit dat die sewe verhale min of meer dieselfde struktuur, aanbiedingswyse en eienskappe met betrekking tot fokus, perspektief en tyd vertoon, daartoe dat die verhale op subtiele wyse op mekaar inspeel en mekaar aanvul. In feite is dit tipies van die prosasiklus wat een sentrale tema ontwikkel en herhaal. Die gevolg is dat die ontologiese grense tussen verhale bevraagteken word. Op grond hiervan word daar in die artikel uitgegaan van die hipotetiese aanname dat daar in Naudé se teks bepaalde normverskuiwings op die vlak van die genre waargeneem kan word. Vernuwing is uiteraard 'n belangrike kriterium in die beoordeling van letterkundige werke en speel ook 'n groot rol in die resepsie daarvan. Ten slotte is een van die doelwitte van hierdie studie dus ook om implisiet te oordeel oor die feit dat dié bundel - wat selfs internasionaal wyd bekroon en gewaardeer is - nooit die Eugène Maraisprys van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (in wese 'n aanmoedigingsprys vir 'n debuutwerk of vroeë publikasie) ontvang het nie.

Saved in:
Bibliographic Details
Main Authors: Erasmus-Alt,Joanita, Van Coller,H.P.
Format: Digital revista
Language:Afrikaans
Published: Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns 2017
Online Access:http://www.scielo.org.za/scielo.php?script=sci_arttext&pid=S0041-47512017000200012
Tags: Add Tag
No Tags, Be the first to tag this record!