Is die toegepaste taalkunde 'n onderdeel van die linguïstiek?

Die redelik onlangse ontstaan van die toegepaste taalkunde as dissipline verklaar waarom die definisies daarvan soveel stryd ontlok. Daar is 'n veelheid van wyses waarop die veld gekonseptualiseer word. Tans is multi- of inter- en selfs transdissiplinariteit weereens gewilde terme in sulke definisies. Merkwaardig genoeg verbind sommige huidige beskouings die veld eksklusief aan die taalkunde, net soos by die aanvang van die dissipline sowat 60 jaar gelede. Hierdie artikel bespreek 'n reeks onlangse herbesinnings oor die definisies vir die dissipline. Die argument word gevoer dat daar nie konseptuele kontinuïteit tussen die linguistiek en die toegepaste taalkunde bestaan nie. Die filosofiese idee word benut dat dissiplines optimaal gedefinieer kan word - nie met verwysing na konkrete entiteite (soos "taal") nie, maar eerder deur te verwys na die teoreties onderskeibare modaliteite of aspekte. Daardie aspekte funksioneer as konseptuele invalshoeke vir dissiplinêre begripsvorming. Die tersaaklike modaliteite hier is respektiewelik die linguale aspek, wat begripsvorming in die linguistiek omskryf, en die tegniese dimensie van ons ervaring, wat sentraal staan in toegepaste taalkundige begripsvorming. Daar is historiese redes waarom sommige taalkundiges ongemaklik was binne die linguistiek, en verkies het om eerder as "toegepaste" taalkundiges te werk. Sulke ongemak is egter nie voldoende rede om helderheid oor die aard van hul teoreties analitiese arbeid te vermy nie. Dissiplinêre definisies bly belangrik: modernistiese en postmodernistiese idees onderliggend aan die linguistiek en die toegepaste taalkunde hou gevolge vir sulke werk in. Dissiplinêre bewustheid, veral van paradigmaverskille, beskerm akademici teen naïewe opinies of die klakkelose navolg van intellektuele modes.

Saved in:
Bibliographic Details
Main Author: Weideman,Albert
Format: Digital revista
Language:Afrikaans
Published: Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns 2017
Online Access:http://www.scielo.org.za/scielo.php?script=sci_arttext&pid=S0041-47512017000100011
Tags: Add Tag
No Tags, Be the first to tag this record!