Die herkonseptualisering van volhoubaarheid ná die dekade van opvoeding vir volhoubare ontwikkeling

Die afgelope dekade (2005-2014) is gekenmerk deur verskeie bewusmakingsveldtogte aangaande volhoubare ontwikkeling. Nietemin, tesame met die veelvoudige waarskuwings wat die behoefte aan 'n volhoubare leefstyl beklemtoon, is die omgewing steeds besig om teen 'n geweldige spoed agteruit te gaan. Hierdie agteruitgang is onder meer sigbaar in die globale omgewingsprobleme soos klimaatsverandering, die afname in biodiversiteit, besoedeling, ontbossing en 'n groeiende werkloosheidsyfer. Verskeie opvoedkundige pogings is reeds aangewend om die erns van die globale sosio-ekologiese krisis te belemtoon, insluitend die Verenigde Nasies se verklaring aangaande die dekade van opvoeding vir volhoubare ontwikkeling (2005-2014). Ten spyte hiervan blyk dit dat onderwysers steeds voortgaan om te onderrig asof daar geen planetêre noodgeval bestaan nie. Nou, na die laaste jaar van die dekade van opvoeding vir volhoubare ontwikkeling, kan daar gevra word: Hoe kan onderwysers en skole volhoubaarheid ná afloop van hierdie dekade opnuut aanspreek? In hierdie artikel word daar aangevoer dat onderwysers en skole eerstens die term "volhoubaarheid" binne omgewingsopvoeding moet herkonseptualiseer voordat daar na die implementering van nuwe pedagogieë gekyk word. Die hoofdoel van hierdie artikel is dus (a) om 'n konseptuele raamwerk van só 'n veranderde siening voor te stel deur die moontlikheid van volhoubaarheid as 'n denkraamwerk te bespreek en (b) die implikasies daarvan vir onderwysers en skole te verken.

Saved in:
Bibliographic Details
Main Authors: Ontong,Krystle, le Grange,Lesley
Format: Digital revista
Language:Afrikaans
Published: Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns 2015
Online Access:http://www.scielo.org.za/scielo.php?script=sci_arttext&pid=S0041-47512015000100004
Tags: Add Tag
No Tags, Be the first to tag this record!