Die doeltreffendheid van die skoolondersteuningspan binne die Suid-Afrikaanse inklusiewe onderwysstelsel

Alhoewel die begrip inklusiewe onderwys en opleiding verwys na 'n relatief nuwe sisteem in Suid-Afrika, vorm dit 'n integrale deel van die breër onderwysondersteuningstelsel. Die skool-ondersteuningspan verskaf ondersteuning aan sowel leerders met leer- en ontwikkelingshindernisse as aan onderwysers en ouers/versorgers, binne die skoolverband en spesifieke leeromgewings. Hierdie studie het die doeltreffendheid van die skoolondersteuningspan in vyf primêre hoofstroomskole in die Wes-Kaap, op grond van bepaalde kriteria, ondersoek. Data is ingesamel deur middel van gestruktureerde vraelyste, individuele en fokusgroeponderhoude, veldnotas en die ontleding van toepaslike dokumentasie. Elf kriteria is ontwerp om gesamentlik as 'n evalu-eringsinstrument te dien. Die doeltreffendheid van die vyf skoolondersteuningspanne is vervolgens geëvalueer en volgens 'n konseptuele raamwerk in bepaalde kategorieë geplaas. Daar is bevind dat die vyf skoolondersteuningspanne op die meeste terreine redelik doeltreffend funksioneer. Ten opsigte van hul samestelling is al vyf spanne doeltreffend. Op die terreine wat betref oriëntering en opleiding van spanlede, onderwysers en ouers/versorgers van die leerders met leer- en ontwikkelingshindernisse, funksioneer al vyf spanne egter ondoeltreffend. Verdere navorsing wat betref ondersteuningsisteme in inklusiewe skole word aanbeveel.

Saved in:
Bibliographic Details
Main Authors: du Toit,Nina, Eloff,Irma, Moen,Melanie
Format: Digital revista
Language:Afrikaans
Published: Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns 2014
Online Access:http://www.scielo.org.za/scielo.php?script=sci_arttext&pid=S0041-47512014000200011
Tags: Add Tag
No Tags, Be the first to tag this record!