Ouers se ervaring van deelname aan 'n perdondersteunde ouerleidingsprogram

'n Verskeidenheid terapeutiese programme waarin perde benut word, word deur geestesgesond-heidsterapeute gebruik om die psigososiale funksionering van kliënte te verbeter. Dit blyk egter dat nie al hierdie terapeutiese programme oor 'n navorsingsbasis beskik nie. Navorsing aangaande genoemde programme is dus noodsaaklik, sodat die kliënt op die beste moontlike wyse terapeuties gehelp kan word. Die doel van hierdie studie is derhalwe 'n ondersoek na die subjektiewe belewenisse van kliënte wat aan 'n perd-ondersteunde ouerleidingsprogram deelgeneem het ten einde aanpassings aan die program vir toekomstige gebruik te maak. Die studie kan ook as basis dien vir verdere kwantitatiewe, bewysgebaseerde navorsing. Die kwalitatiewe navorsingsparadigma, met 'n fenomenologiese ontwerp, is in hierdie studie gevolg. 'n Doelbewuste niewaarskyn-likheidsteekproef van ses deelnemers is getrek en data is deur middel van vraelyste met geslote sowel as oopeinde-vrae en semigestruktureerde persoonlike onderhoude ingesamel. Hierna is dit volgens die stappe van beskrywende fenomenologie geanaliseer. Daar is onder andere bevind dat die deelnemers die beginsels van die perd-ondersteunde ouerleidingsprogram begryp het, dat selfinsig en insig in hulle kinders se gedrag en ontwikkelingsfase verhoog het en dat hulle alternatiewe wyses om hulle kinders te hanteer, begin benut het. Die feit dat die program nie op individuele vlak aangebied is nie, is as 'n leemte aangedui. Daar is verder bevind dat die deelnemers die benutting van die perde as waardevol ervaar het en dat hulle perde verkies bo ander lewende of sagte speelgoeddiere.

Saved in:
Bibliographic Details
Main Author: van Wyk,Carel
Format: Digital revista
Language:Afrikaans
Published: Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns 2014
Online Access:http://www.scielo.org.za/scielo.php?script=sci_arttext&pid=S0041-47512014000200010
Tags: Add Tag
No Tags, Be the first to tag this record!