Ekonomie en meertaligheid: 'n herbesinning oor die Suid-Afrikaanse taalbeleid

Daar word geargumenteer dat taal meer as net 'n kommunikasiemiddel is en dat die kulturele aspek of intrinsieke waarde van taal nie geïgnoreer mag word nie. Die koste van meertaligheid word dikwels oorbeklemtoon, terwyl die sosiale voordele onderskat en selfs oor die hoof gesien word. Dit het daarom nodig geword om meertaligheid in Suid-Afrika vanuit 'n ekonomiese perspektief te ontleed. Meertaligheid skep 'n positiewe eksternaliteit en die sosiale welvaart van Suid-Afrika kan verhoog word indien die sosiale voordele van meertaligheid die koste oorskry. Eentaligheid bevoordeel hoofsaaklik die elite en lei tot die verdere uitsluiting van minderbevoorregtes. Verder weerspreek dit ook die Suid-Afrikaanse Grondwet. Sensus 2011 word gebruik om aanbevelings oor 'n werkbare en bekostigbare meertalige beleid vir Suid-Afrika te maak, aangesien dit 'n meer objektiewe norm is. Vier amptelike tale, naamlik Afrikaans, Engels en die Nguni- en Sotho-tale, word vir nasionale regeringsvlak aanbeveel, bepaal deur die aantal eerstetaalsprekers van die onderskeie tale. Die Nguni- en Sotho-tale word saamgegroepeer in ooreenstemming met 'n aanbeveling van Alexander. Drie tot vier tale word as amptelike tale op provinsiale vlak aanbeveel ten einde Engels as lingua franca te akkommodeer. Hierdie voorstelle verteenwoordig 'n meer praktiese, uitvoerbare en bekostigbare taalbeleid en sal boonop verseker dat die huidige amptelike tale steeds as amptelike tale op ten minste een van hierdie twee owerheidsvlakke gebruik word. Belangegroepe sal egter druk op die regering moet uitoefen om te verseker dat meertaligheid verwesenlik word, gegewe die onverskilligheid van die regering in dié verband tot dusver.

Saved in:
Bibliographic Details
Main Author: van der Merwe,Theo
Format: Digital revista
Language:Afrikaans
Published: Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns 2014
Online Access:http://www.scielo.org.za/scielo.php?script=sci_arttext&pid=S0041-47512014000200004
Tags: Add Tag
No Tags, Be the first to tag this record!