'n Wending in voorkeurverkryging

In hierdie artikel ontleed en evalueer die skrywers nuwe regulasies oor voorkeurverkryging wat deur die Minister van Finansies uitgevaardig en wat in Desember 2011 van krag geword het. Die skrywers gaan van die standpunt uit dat voorkeurverkryging wanneer die staat koop, geregverdig is in die lig van die benadeling van sekere kategorieë mense in die verlede, maar dat regstellende stappe deur die grondwetlike visie van nierassigheid en nieseksisme begrens behoort te word. Die wetgewende agtergrond tot die nuwe regulasies word ontleed aan die hand van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika van 1996. Die nuwe regulasies verskil van die voorheen geldende regulasies deurdat die bydrae van 'n besigheid tot omvattende swart ekonomiese bemagtiging nou die enigste grond word waarop dit voorkeurpunte kan verdien wanneer dit met die staat sake doen. Dit beteken dat die vermoë van wit vroue om in die mark te kompeteer beslis agteruitgegaan het, omdat hulle nou voorkeurpunte verbeur waarop hulle vroeër aanspraak kon maak. Die rede hiervoor is die rasgedrewe aard van beleidvoering. Dit veroorsaak dat die nuwe regulasies nie aan die nieseksistiese gees van die Grondwet voldoen nie. Benewens die agteruitgang van die posisie van wit vroue word ander gebreke in die betrokke ondergeskikte wetgewing ten opsigte van funksionaliteit en die bevordering van kleinsake uitgelig.

Saved in:
Bibliographic Details
Main Authors: Pauw,J.C., van der Walt,Marika
Format: Digital revista
Language:Afrikaans
Published: Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns 2012
Online Access:http://www.scielo.org.za/scielo.php?script=sci_arttext&pid=S0041-47512012000300002
Tags: Add Tag
No Tags, Be the first to tag this record!