Waardes as kultuuraspek van die Afrikaner

Die toewysing van 'n spesifieke kultuur of kulturele kenmerke aan 'n groep ten einde dit te kan identifiseer, is 'n algemene verskynsel in die antropologie. Die kern, in kort, van waaroor dit gaan, is dat identiteit en 'n spesifieke kultuurgroep se eiesoortige kultuur gewoonlik komplementerend teenoor mekaar staan. Ofskoon antropoloë verskil oor die aard en betekenis van kultuur en kultuurgrense, verteenwoordig die idee dat kultuur en identiteit gebaseer is op en geïntegreer word deur gedeelde, fundamentele waardes, 'n algemene antropologiese aanname. In aansluiting hierby word waardes dan ook in hierdie artikel gebruik as die invalshoek om die Afrikaner se kultuur en identiteit te belig binne 'n pre-1994-konteks asook 'n post-1994-konteks. Dit bring in die eerste plek mee dat die begrip "waardes", asook die koppeling daarvan aan kultuur en identiteit, bespreek sal word. Die herstrukturering en transformasie van die breër Suid-Afrikaanse samelewing, plus die onafwendbare een-en-twintigste-eeuse kragte van globalisering en postmodernisme, het inderdaad die era van nihilisme vir die Afrikaner laat aanbreek en sy meesterwaarde onder druk geplaas. De Klerk (1979:115) se opmerking: "As die Christelike verwerp, verwater of verdring word, bedreig dit die kern van die Afrikaner se lewensopvatting ", is bewaarheid. Die impak van die disintegrasie van die Afrikaner se meesterwaarde is oral duidelik sigbaar. Hierdie disintegrasie van die Afrikaner se meesterwaarde, asook die gepaardgaande verandering in die Afrikaner se waarde-oordeel in 'n postapartheid en geglobaliseerde Suid-Afrika, word vervolgens in hierdie artikel beskryf.

Saved in:
Bibliographic Details
Main Author: van der Merwe,J P
Format: Digital revista
Language:Afrikaans
Published: Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns 2008
Online Access:http://www.scielo.org.za/scielo.php?script=sci_arttext&pid=S0041-47512008000300007
Tags: Add Tag
No Tags, Be the first to tag this record!