Die noodsaak van bevoegde onderwysers in elke Suid-Afrikaanse skoolklaskamer

Goeie onderwys kan beskou word as die belangrikste funksie van die staat. Kinders kan nie sukses in die lewe behaal sonder onderwys nie en die basiese instellings van 'n staat kan ineenstort sonder goeie onderwys (vgl. Thro 2005; Nkomo 2021). 'n Verslag van die Wêreld Ekonomiese Forum (2013) het bevind dat Suid-Afrika se onderwysstelsel die derde swakste van al die geëvalueerde lande gevaar het. Die jongste ewekniestudies oor aspekte van die onderwys bevestig almal dat Suid-Afrika groot uitdagings in die gesig staar, hoewel daar tog geringe vordering te bespeur is (Department of Basic Education 2017). Die beskikbaarheid van bevoegde leerkragte word as as een van die grootste uitdagings van die Suid-Afrikaanse onderwyssstelsel gesien. Die pedagogiese en vakinhoudelike kennis van die meeste onderwysers is swak en is die hoofrede vir swak leerderprestasie. Verskeie redes kan vir hierdie onbevoegdheid aangevoer word. Meta-analiste soos Hanushek en Hattie het bevind dat iemand wat oplossings vir onderwysprobleme soek in die eerste plek na die gehalte van onderwysers moet kyk. In hierdie artikel ondersoek ek die implikasies van hulle sienings en in besonder hulle bevindings dat mens "prosaiëse" ekonomiese waardes aan onderwysers se bydraes kan heg. Nuwe uitdagings wat aan onderwysers gestel word deur die Covid-19-virus nou, en ook wanneer die onderwysstelsel na die pandemie herstel ("reset"), sal in berekening gebring moet word. Die koronavirus en die afloop daarvan sal waarskynlik saam met die huidige probleme met die gehalte van onderwys die aanstelling van bevoegde onderwysers ononderhandelbaar maak.

Saved in:
Bibliographic Details
Main Author: Beckmann,Johan
Format: Digital revista
Language:Afrikaans
Published: Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns 2021
Online Access:http://www.scielo.org.za/scielo.php?script=sci_arttext&pid=S0041-47512021000300007
Tags: Add Tag
No Tags, Be the first to tag this record!