Omgewingsidentiteit in die Era van die Mens: Nuwe perspektiewe op Toorbos. Deel 2

Die rolprentweergawe van Dalene Matthee se roman, Toorbos, is in 2019 vrygestel. Die mediabelangstelling in die rolprent het nuwe aandag op die roman gevestig. Die romangegewe asook die filmbeelde van die uitroei van die eeu-oue Knysnawoud en gepaardgaande ekosisteme het ons ook opnuut attent gemaak op die onthutsende kwessie van mensgemaakte bedreigings vir lewe op aarde. In die Era van die Mens word toenemende druk op die planeet se lewens-onderhoudende sisteme geplaas en groei die kommer daaroor wêreldwyd. Die teoretiese raamwerk wat benut word in die ekokritiese herlees van Toorbos is Susan Clayton en Susan Opotow se omgewingsidentiteitsteorie en -model. In Deel 1 van my studie, in die September 2020-uitgawe van hierdie tydskrif, is die belang van omgewingsidenteit vanuit 'n teoretiese hoek gemotiveer. Nou, in Deel 2, word dit prakties geïllustreer deur die toepassing van Clayton en Opotow se omgewingsidentiteitsmodel op 'n analise van die hooffigure in Toorbos. Die bevinding is dat Karoliena en Johannes, ongeag verskeie gedeelde agtergrondfaktore, uiteenlopende rigtings inslaan wat omgewingshouding- en gedrag betref - spesifiek weens omge-wingsidentiteitsverskille. Hierdie kwessie gee tot spanning en onherstelbare verhoudingskade aanleiding. Toorbos illustreer hoe kragtig omgewingsidentiteitskwessies op menseverhoudings sowel as op omgewingsgedrag en -oortuigings kan inspeel. Deur omgewingsidentiteit as betekenisvolle gegewe in die werklike lewensituasie te ag, mag die kontoere van omgewings-debatte op praktiese en vrugbare wyse verlê word. Die klein snit uit die Suid-Afrikaanse werklikheid wat Toorbos bied, mag bewustheid skep vir die belangrike implikasies van voldoende insig omtrent omgewingsidentiteit in die Era van die Mens, ten einde verskiltende beskouings en hanterings van omgewingsprobleme volledig te begryp en konstruktief te hanteer.

Saved in:
Bibliographic Details
Main Author: Meyer,Susan
Format: Digital revista
Language:Afrikaans
Published: Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns 2020
Online Access:http://www.scielo.org.za/scielo.php?script=sci_arttext&pid=S0041-47512020000500004
Tags: Add Tag
No Tags, Be the first to tag this record!