'n Verkenning van aardsistemiese kwesbaarheid binne die konteks van afvalstortingsterreine in die Antroposeen

Die Antroposeen verwys na 'n geologiese epog wat oorheers word deur die mens. Binne hierdie epog verander menslike aktiwiteit atmosferiese, geologiese, hidrologiese, biosferiese en ander aardsistemiese prosesse. Hierdie prosesse kan nie meer bloot toegeskryf word aan die natuur nie. Die verreikende gevolge van menslike aktiwiteit lei tot aardsistemiese kwesbaarheid. Een van die gevolge van menslike aktiwiteit wat 'n diepgaande impak in die Antroposeen het en optree as katalisator vir weerloosheid, is afval. Hecht (2018:111) het inderdaad die Antroposeen beskryf as die "apoteose van afval". Binne die konteks van die Antroposeen verken hierdie artikel Martha Fineman se kwesbaarheidsteorie en Louis Kotzé se verwante en uitgebreide raamwerk van aardsistemiese kwesbaarheid. Beide Fineman en Kotzé bepleit 'n destabilisering van tradisionele regsubjektiwiteit. Hul uitgangspunt is nie die Westerse, liberale, outonome subjek nie, maar eerder die universele subjek wat aanspraak maak op 'n responsiewe staat. 'n Responsiewe staat behoort veerkragtigheidsbronne te produseer om universele kwesbaarheid teen te werk. Oorweging moet geskenk word daaraan of die idee van die universele kwesbare subjek relevant is in die Suid-Afrikaanse konteks met sy menseregtebenadering wat substantiewe gelykheid voorstaan. Die konsep kan egter wel ander tekortkomings van menseregte aanspreek. Die artikel toon dat aardsistemiese kwesbaarheid veroorsaak word deur verhoudings tussen menslike en niemenslike subjekte en die afvalstortingsterrein-omgewing op beide mikro- en makro-ekologiese vlak. Dit spoor persoonlike, relasionele en institusionele kwesbaarhede van beide menslike en niemenslike entiteite by die lokus van die afval-stortingsterrein na en lewer sodoende 'n bydrae tot progressiewe regsteorie betreffende afval.

Saved in:
Bibliographic Details
Main Authors: Grübler,Lizette, Schenck,Rinie
Format: Digital revista
Language:Afrikaans
Published: Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns 2020
Online Access:http://www.scielo.org.za/scielo.php?script=sci_arttext&pid=S0041-47512020000100012
Tags: Add Tag
No Tags, Be the first to tag this record!