"Reaksionêre nihilisme" in die huidige era

Die uitgangspunt van hierdie artikel is dat geen vorige samelewing in die geskiedenis vergelykenderwys al ooit so nihilisties soos die huidige was nie - waar "nihilisme" die radikale ontkenning van alle intrinsieke waarde beteken. Gevolglik word die samelewing met die enorme uitdaging gekonfronteer om middele, soos onder meer kuns en opvoeding, te vind en te benut om die moontlikheid van 'n sinvolle bestaan oortuigend te artikuleer. Daar word aandag geskenk aan twee soorte nihilisme - reaksionêr en vindingryk - gevolg deur 'n blik op die werk van Erich Fromm oor die verlies aan die "self", asook die werk van Bernard Stiegler, om wat reeds vasgestel is, verder te nuanseer in terme van sy benutting van Donald Winnicott se psigoanalitiese ondersoek na die funksie van "oorgangsvoorwerpe". Stiegler toon aan dat Winnicott se insigte 'n mens in staat stel om die huidige obsessie met mnemo-tegniese apparate soos slimfone te evalueer betreffende hulle dubbelsinnige pharmakon-rol as "oorgangsvoorwerpe" - hulle kan naamlik enersyds as "gif", maar andersyds as "geneesmiddel" funksioneer. Daar word verder na die onlangse werk van Gil Germain oor tegnologie en "begeerte", sowel as Laurent de Sutter se begrip "narkokapitalisme" verwys, waarvolgens daar 'n grootliks onsigbare, maar wydverspreide verband tussen die globale dwelmhandel (veral in kokaïen), die gebruik van antidepressante en verbruikerskapitalisme bestaan. De Sutter se verreikende navorsing bring aan die lig dat 'n grootliks "verdoofde" samelewing nie in staat is om waarde-oordele uit te voer nie; vandaar die haas-volledige houvas van reaksionêre nihilisme op die huidige samelewing, wat met vindingryke nihilisme die hoof gebied moet word.

Saved in:
Bibliographic Details
Main Author: Olivier,Bert
Format: Digital revista
Language:Afrikaans
Published: Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns 2019
Online Access:http://www.scielo.org.za/scielo.php?script=sci_arttext&pid=S0041-47512019000400002
Tags: Add Tag
No Tags, Be the first to tag this record!