Media, tegniek, en die vraag na menslike afstomping

Dit is geen oordrywing om te praat van die tyd waarin ons leef as een van media-oorheersing nie. Die blote feit dat die Amerikaanse president die samelewing op hol kan jaag deur middel van sy tydige en ontydige "tweets" is simptomaties hiervan, asook uitdrukking van wat Manuel Castells die "netwerk-samelewing" noem. Laasgenoemde is moontlik gemaak deur die tegnologiese rewolusie wat terugstrek tot by die uitvinding van die radio, en wat in die konstruksie van die internet gekulmineer het. Wat minder bekend is, is dat hierdie globale rewolusie 'n fundamentele verandering in mense se ervaring van tyd en ruimte meegebring het - wat Castells die "ruimte van vloei" en "tydlose tyd" noem. Kortweg: die menslike lewensfeer is deurgrondelik omvorm deur tegnologiese ontwikkelinge. Die vraag is egter - in die lig van sekere verskynsels waarop iemand soos onder andere Sherry Turkle wys - of hierdie toedrag van sake, wat vereis dat mense wat in die mediasfeer tuis wil wees tot die status van "digitale boorlinge" moet aspireer, nie onvermydelik gepaardgaan met 'n sekere affektiewe en intellektuele afstomping nie; waarop sy bevestigend antwoord. Hierdie vraag sou maklik as uitdrukking van tegnofobie gelees kon word, maar, soos Bernard Stiegler aantoon, is dit nie die geval nie. Enersyds, so meen Stiegler, lei die huidige tegniek, in die gewaad van mnemo-tegniese apparate soos slimfone, tablette en skootrekenaars (waardeur jy toegang verkry tot onder andere sosiale media), na wat hy "ver-idiotisering" noem. Andersyds kan - en moet - 'n mens leer hoe om hierdie "uitwendige memoriseringsapparate" vir wat hy "kritiese intensivering" noem aan te wend, ten einde die stryd teen die gevangeneming van mense (veral kinders) se "aandag" te kan wen. Per slot van sake, volgens Stiegler is skole (en mens sou sosiale media kon byvoeg) vandag die arena waar die stryd gevoer word vir die aandag van skoliere en studente deur die siniese gebruik van tegniek en media deur neoliberale kapitalisme, uitsluitlik met die oog op bemarking. Vervolgens word gepoog om hierdie problematiek in perspektief te stel.

Saved in:
Bibliographic Details
Main Author: Olivier,Bert
Format: Digital revista
Language:Afrikaans
Published: Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns 2018
Online Access:http://www.scielo.org.za/scielo.php?script=sci_arttext&pid=S0041-47512018000400002
Tags: Add Tag
No Tags, Be the first to tag this record!