Radikalisering van die politiek - ʼn gevaar vir die demokrasie

Die afgelope twee dekades word gekenmerk deur ʼn toenemende ideologisering en radikalisering van die politiek. Dit kom neer op ʼn miskenning van die pluraliteit en veelstemmigheid van die mensdom, en as sodanig hou dit ʼn groot gevaar in vir die demokrasie. Politiek (en die begrip "demokrasie") word verskraal tot ʼn postkoloniale stryd teen rassisme en diskriminasie oftewel uitsluiting van die "Ander" as dit wat aan die wortel sou lê van alles wat boos en verkeerd is in die samelewing. Politiek word basies vereenselwig met die uitsluiting van alle uitsluitings. Die enigste wat binne hierdie logika uitgesluit mag, en inderdaad uitgesluit moet word, is diegene wat uitsluit en grense wil handhaaf. In die naam van "bevryding" en "progressiwiteit" word daar genadeloos proses gevoer teen diegene wat nog aandring op erkenning van die verskeidenheid van gemeenskappe, en wat nie (polities korrek) wil meedoen aan die transformasie-agenda van die radikale politiek nie. Diesulkes word beskou as struikelblokke in die opmars na ʼn geluksalige toekoms vir die mensdom en gebrandmerk as "vyande van die mensdom", as oorblyfsels uit ʼn agterhaalde verlede wat liefs uit die weg geruim moet word. Wesentlik bestaan ideologieë en radikale politiek altyd in ʼn negering van konkrete gegewenhede, feite en gebeurtenisse ten gunste van ʼn simplistiese morele basis-skema, naamlik ʼn digotomie (fundamentele kloof of skeiding) tussen goed en kwaad: "toleransie" versus "stigmatisering", "rassisme" versus "antirassisme", "samehorigheid" versus "segregasie", "openheid" versus "etnosentrisme", "onderdrukkers" teenoor "onderdruktes". Die asimmetriese morele kodering van teenstellings en konflikte tussen groepe mense hou ʼn ernstige bedreiging in juis vir dié sfeer waarbinne dit tradisioneel hanteer en so goed as moontlik opgelos word: die politieke sfeer waarin daar politieke vriende en vyande moontlik is, oorloë, maar ook die sluiting van ʼn kompromie en ʼn vredesverdrag. Radikale politiek wil ʼn einde maak aan politiek as die kuns van die moontlike wat rekening hou met objektiewe grense soos histories gegroeide verhoudinge asook nasionale en plaaslike eienaardighede. Sodoende word politiek die kompromislose voltrekking van ʼn taak, ʼn noodsaak, ʼn universele bestemming.

Saved in:
Bibliographic Details
Main Author: Schoeman,Marinus
Format: Digital revista
Language:Afrikaans
Published: Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns 2017
Online Access:http://www.scielo.org.za/scielo.php?script=sci_arttext&pid=S0041-47512017000400005
Tags: Add Tag
No Tags, Be the first to tag this record!