Die psigososiale omstandighede van straatkinders en hulle behoeftes in 'n lewensvaardigheidsprogram

Die straatkindverskynsel het dwarsoor die wêreld ʼn maatskaplike probleem geword en kan aan heelwat faktore toegeskryf word soos swak ekonomiese toestande, werkloosheid en gesinsprobleme wat in die gemeenskap ervaar word. Hierdie kinders verbeur dikwels die voorregte en bydraes tot ontwikkeling wat deur ʼn gesonde gesinslewe teweeg gebring word, en daar word onvoldoende in hulle basiese behoeftes voorsien. Hierdie situasie strem hul normale ontwikkeling en hulle openbaar dikwels ernstige psigososiale nagevolge, soos wantroue in mense, ʼn gebrek aan selfvertroue en swak interpersoonlike verhoudings. Die studie se teoretiese uitgangspunt is die sterkte- en bemagtigingsperspektiewe wat aanvullend in maatskaplike werk benut kan word. Min literatuur is beskikbaar oor die psigososiale behoeftes en omstandighede van straatkinders in Suid-Afrika. Die doel van die studie behels ʼn behoeftebepaling ten opsigte van die psigososiale omstandighede en behoeftes van straatkinders by die Thakaneng Kinder- en Jeugsorgsentrum (TKJS) in Potchefstroom ten einde inligting te versamel wat benut kan word in ʼn lewensvaardigheidsprogram. Die gemengde navorsingsmetode is benut deurdat kwalitatiewe sowel as kwantitatiewe navorsingstegnieke en -metodes binne die verkennende en beskrywende navorsingsontwerpe benut is. Vir die deel van die studie waaroor in hierdie artikel verslag gedoen word, is data deur middel van ʼn self-gestruktureerde vraelys ingesamel. Vanuit die verkreë data kon die behoefte vir, en moontlike temas van belang vir ʼn lewensvaardigheidsprogram, geïdentifiseer word. Van die belangrikste lewensvaardighede wat die navorser vanuit die behoeftebepaling en die literatuur kon identifiseer, is selfkennis; selfvertroue en selfhandhawing; interpersoonlike verhoudings en vertroue; algemene en emosionele hanteringmeganismes; toekomsbeplanning en besluitneming; gesondheid en ʼn gesonde leefstyl; kommunikasievaardighede; probleemoplossing en konflikhantering; tydsbestuur; finansiële bestuur en sekere ander aangeleenthede, soos die gevare verbonde aan die misbruik van middels, die voorkoming van MIV en ander oordraagbare geslagsiektes, asook kinderregte. Hierdie vaardighede word deur die kwantitatiewe sowel as kwalitatiewe data bevestig.

Saved in:
Bibliographic Details
Main Authors: Simeon,Elzahne, Herbst,Alida, Strydom,Herman
Format: Digital revista
Language:Afrikaans
Published: Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns 2017
Online Access:http://www.scielo.org.za/scielo.php?script=sci_arttext&pid=S0041-47512017000300005
Tags: Add Tag
No Tags, Be the first to tag this record!

Similar Items