Kritiese opmerkings oor ons tyd en sommige van sy gevaarlikste illusies

Eerstens ondersoek hierdie artikel 'n belangrike verskynsel van ons tyd, naamlik die heroplewing van rewolusionêre bevrydingsbewegings. Basies berus al die rewolusionêre bevrydingsbewegings op minstens twee veronderstellings wat myns insiens albei drogrede-nasies is. Die eerste is die veronderstelling dat ons as mense vry gebore word, en die tweede is die veronderstelling van die nulsom. Beide veronderstellings word krities bespreek. Daar word aangetoon hoe hulle aanleiding gee tot illusies wat n ernstige bedreiging inhou vir die demokrasie en vir beskaafde standaarde in die burgerlike samelewing. Die aandag word veral gerig op die verskynsel van radikaal-Islamitiese terreur en die ideologie van "Derdewêreldisme" oftewel postkoloniale bevryding. Die tweede deel van die artikel handel oor die laat-moderne verskynsel van wat mens kan bestempel as 'n "kultuur van verwerping en onverskilligheid" (beter nog: 'n antikultuur) wat sigself veral in die hoogs ontwikkelde samelewings laat geld. Hierdie antikultuur van onbeskofte en provokerende gedrag kom voort uit n radikale houding van ondankbaarheid, disrespek en 'n totale gebrek aan skroom. Die artikel sluit af met aanduidings van hoe hierdie antikultuur bestry kan word, en wat die voorwaardes vir n beskaafde samelewing sou behels. Filosofie as aktualiteitsanalise - dit beteken dat die filosoof 'n poging aanwend om die tydsgees aan te voel, onder woorde te bring en van vraagtekens te voorsien. "Tydsgees" is 'n vae begrip. Dit is moeilik om dit vas te vang, want as evidensies, d.w.s. as geleefde praktyke, oortuigings, denkgewoontes en denktaboes geld dit meestal as vanselfsprekend, as versweë veronderstellings wat slegs selde tot openbaring kom. Dit het al 'n gemeenplaas geword om te sê dat ons hedendaagse, moderne samelewings gekenmerk word deur die verskynsel van globalisering en sterk beïnvloed word deur die neoliberale lewensopvatting. Dié lewensopvatting berus op die vanselfsprekende aannames van n tegnokratiese en progressiewe elite, wat op elke verstoring van sy wereldbeeld reageer deur die verstorende faktore voor te hou as agterhaalde oorblyfsels uit n oorwonne verlede. Dit lewer n soort sprekerswins op, want dit maak van argumentvoering en debat 'n botsing tussen verteenwoordigers van die toekoms en oorblyfsels van 'n agterhaalde verlede. Wie wil na alles bestempel word as 'n reaksionêr, as 'n struikelblok vir vooruitgang? Ek wil in hierdie bydrae egter nie op die neoliberale gedagtegoed fokus nie. Ek wil eerder die aandag vestig op 'n ander belangrike verskynsel van ons tyd, naamlik die heroplewing van rewolusionêre bevrydingsbewegings. Daarbenewens wil ek, in die tweede plek, stilstaan by die laat-moderne verskynsel van wat mens kan bestempel as 'n "kultuur van verwerping en onverskilligheid" (beter nog: 'n antikultuur) wat sigself veral in die hoogs ontwikkelde samelewings laat geld.

Saved in:
Bibliographic Details
Main Author: Schoeman,Marinus
Format: Digital revista
Language:Afrikaans
Published: Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns 2017
Online Access:http://www.scielo.org.za/scielo.php?script=sci_arttext&pid=S0041-47512017000100003
Tags: Add Tag
No Tags, Be the first to tag this record!