Wat is die universiteit? Gedagtes oor die gemeenskapsuniversiteit

In die artikel word uitgegaan van die gedagte dat die toekoms van universitêre Afrikaans toenemend 'n funksie van die Afrikaanse taalgemeenskap self en in die besonder van die sogenaamde gemeenskapsuniversiteit sal wees. Ten diepste fokus die artikel op die vraag na die aard en wese van die gemeenskapsuniversiteit. Ons gaan uit van die standpunt dat die gemeenskapsuniversiteit verstaan moet word teen die agtergrond van die verskille én ooreen-komste daarvan met sowel die moderne Von Humboldt-universiteit as die postmoderne besigheidsuniversiteit. Met sy verbintenis tot Bildung sluit die gemeenskapsuniversiteit by die tradisie van die Von Humboldt-universiteit aan. In die hart van die ideaal van Bildung staan die gedagte dat studente gelei word om insig in die geheel van dinge te verwerf. Maar anders as by die Von Humboldt-universiteit is Bildung binne die konteks van die gemeenskapsuniversiteit nie daarop gefokus om outonome individue binne die konteks van die staatlike orde op te lewer nie. Volgens die gemeenskapsuniversiteit beteken Bildung veel eerder om "burgers" op te voed wat n deelnemende verhouding nie net met die openbare lewe as sodanig nie, maar ook met hulle veelheid van gemeenskappe handhaaf. Soos die postmoderne universiteit word die gemeenskapsuniversiteit "van onder af' moontlik gemaak en deur die werklikhede van die vrye mark bemiddel. Maar anders as die postmoderne besigheidsuniversiteit met sy fokus op die globale markte, gee die gemeenskapsuniversiteit nie sy verbintenis tot plaaslike gemeenskappe, kulture en ekonomieë prys nie. Nog belangriker, anders as die postmoderne universiteit, wat daartoe neig om die universitêre werklikheid uit ekonomiese oorwegings te fragmenteer (nie net tussen die veelheid dissiplines nie, maar ook binne dissiplines self), is die gemeenskaps-universiteit met sy verbintenis tot die moderne universitêre ideaal van Bildung daarop bedag om steeds 'n sin vir die geheel te kultiveer en oor te dra. Kortom, terwyl globale universiteite ingevolge hul naam veronderstel is om 'n blik op die geheel te bied, fragmenteer hulle ons wêreld. Die teenoorgestelde is waar van gemeenskapsuniversiteite. Terwyl hulle in ooreenstemming met hul naam aan die plaaslike vassit, is hulle ironies genoeg forums waarop n lewensbeskoulike blik op die geheel hoegenaamd moontlik is.

Saved in:
Bibliographic Details
Main Author: Goosen,Danie
Format: Digital revista
Language:Afrikaans
Published: Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns 2016
Online Access:http://www.scielo.org.za/scielo.php?script=sci_arttext&pid=S0041-47512016000500007
Tags: Add Tag
No Tags, Be the first to tag this record!