Transformasie en die universiteitswese

"Transformasie" word nie in wetgewing of die Grondwet omskryf nie, maar die beleids-dokumente van die regering en die ANC beklemtoon dit sterk as doelwit. Die motivering vir transformasie word in die konteks van die "National Democratic Revolution" onverbloemd op grond van Marxisties-Leninistiese denke gemotiveer. Hoewel dit ongetwyfeld nie "polities korrek" is om die voortgesette benutting van die kommunistiese taal waarvan die ANC se beleidsdokumente deurdrenk is, te bevraagteken nie, kan ook nie eenvoudig aanvaar word dat dit maar net 'n leë woordespel is nie. In sowel die 1993- en 1996-weergawes van die Grondwet word edele oogmerke ter ondersteuning van fundamentele sosiale en ekonomiese verandering gestel, wat - indien dit verwerklik sou kon word - die komplekse en gekonflikteerde Suid-Afrikaanse samelewing kan omskep in n stabiele burgery met gemeenskaplike verwagtinge van sosiale geregtigheid en stabiliteit. Die huidige regswetenskaplike behandeling van die transformasiebegrip dra nie veel by tot die verheldering van die betekenis daarvan nie. Die wetgewing en beleidsdokumente waarin daar sprake is van transformasie, voorsien ook nie definisies nie en die howe se vertolking daarvan is nie eenduidig nie. Daardeur is die begrip blootgestel aan misbruik vir ideologiese doeleindes, wat die belofte van mislukking inhou wanneer die oorblywende hulpbronne uitgeput is. Onomskrewe transformasie word ook vir die universiteitswese voorgeskryf, en die jongste wysiging van die betrokke wetgewing beoog om aan die Minister die gesag te gee om eensydig "transformasiedoelwitte" aan universiteite voor te skryf en af te dwing. 'n Verandering van die heersende magspatrone wat bevryding van die NDR kan meebring, kan die behoud en positiewe uitbou van die oorblywende eilande van uitnemendheid in die hoëronderwyssektor meebring.

Saved in:
Bibliographic Details
Main Author: Venter,Francois
Format: Digital revista
Language:Afrikaans
Published: Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns 2016
Online Access:http://www.scielo.org.za/scielo.php?script=sci_arttext&pid=S0041-47512016000500005
Tags: Add Tag
No Tags, Be the first to tag this record!