Die rolpersepsies van opvoedkundige tolke in Suid-Afrika

In hierdie artikel word verslag gelewer oor ʼn gedeelte van 'n studie wat die rol van die opvoedkundige tolk ondersoek het (Kotze 2012; 2014). Die studie het onder meer bevind dat daar ʼn teenstrydigheid bestaan tussen normatief-korrekte rolvervulling en die werklike rolvervulling van opvoedkundige tolke. Die onderhawige artikel het spesifiek ten doel om vas te stel wat die rede(s) vir hierdie teenstrydigheid is. Dit word gedoen deur die ontleding van kwalitatiewe data wat ondersoek ingestel het na die rolpersepsies van opvoedkundige tolke. Die data is ondersoek vir temas wat verband hou met die rolvervulling van opvoedkundige tolke, om vas te stel waarom opvoedkundige tolke spesifieke rolvervullingskeuses maak. Drie afleidings word uit hierdie ondersoek gemaak: Die eerste is dat Niska (2002:137-138) se rolpiramiede vir gemeenskapstolking en Kotzé (2014:141) se betoog om 'n meer dinamiese rolmodel vir opvoedkundige tolking bevestig en ook gemotiveer word. Tweedens word die rolkeuse van die opvoedkundige tolk beïnvloed deur die nabyheid ("proximity") van die kommunikasiegenote binne die tolkgeleentheid, omdat daar faktore betrokke is soos lyftaal, verhoudings wat ontwikkel tussen die partye in die tolksituasie, en die opvoedkundige tolk se verantwoordelikheidsin (Olivier 2008:110). Derdens blyk dit dat tolke steeds opgelei word om die kanaalrol as rigtinggewend te beskou. Dit wil voorkom asof die kanaalrol - wanneer dit voorskriftelik aanbeveel word - deur die opvoedkundige tolk as te beperkend ervaar kan word en dat dit selfs verwarring kan veroorsaak. Daar word dus aangevoer dat die opvoedkundige tolk, vanweë die uniekheid van sy tolksituasie, eerder ʼn meer dinamiese rolmodel (soos voorgestel deur Kotzé 2014:127-145) geleer behoort te word, om die uitdagings van opvoedkundige tolking sodoende beter die hoof te bied.

Saved in:
Bibliographic Details
Main Author: Kotzé,Herculene
Format: Digital revista
Language:Afrikaans
Published: Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns 2016
Online Access:http://www.scielo.org.za/scielo.php?script=sci_arttext&pid=S0041-47512016000300004
Tags: Add Tag
No Tags, Be the first to tag this record!