Taalkeuses en -opinies van Afrikaanssprekende studente aan Unisa

Die literatuur oor taalkeuses in veeltalige kontekste wys dat politieke, sosiale en individuele faktore taalkeuses beïnvloed. Dit sluit in: die simboliese waarde van die gebruik van tale anders as Engels, magsverhoudinge, taalideologieë, en plaaslike asook sosiaal-sielkundige faktore. In Suid-Afrika tref ons 'n neiging tot die oorheersing van Engels onder die skyn van veeltaligheid aan. By die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) neem die omvang van onderrig wat slegs in Engels geskied al hoe meer toe en verloor Afrikaans sy voorheen gelyke posisie met Engels. Daarom het die skrywers die taalkeuses en -opinies van Afrikaanssprekende studente aan Unisa empiries ondersoek deur middel van 'n vraelysopname. 'n Totaal van 2 749 studente het in November 2011 'n internetvraelys voltooi. In hierdie artikel berig die skrywers oor 'n seleksie van die inligting wat versamel is. Uit hierdie steekproef het 1 393 studente (50,7%) in Afrikaans gestudeer en 1 314 (47,8%) in Engels. Beduidende verskille is uitgewys tussen die twee groepe op grond van onder andere geslag, ouderdom en kollege. Hoewel studente oor die algemeen trots was op Afrikaans, was dié wat in Afrikaans gestudeer het, beduidend meer trots op hulle taal en baie positief oor die uitkoms van hulle keuse. Studente wat in Engels gestudeer het, het die beskikbaarheid van handboeke en die nut van kennis van Engelse terminologie as redes vir hulle keuse uitgewys. Enkele aanbevelings word gemaak oor hoe Afrikaans as onderrigtaal op tersiêre vlak bevorder kan word.

Saved in:
Bibliographic Details
Main Authors: Bornman,Elirea, Potgieter,Petrus H, Pauw,JC
Format: Digital revista
Language:Afrikaans
Published: Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns 2013
Online Access:http://www.scielo.org.za/scielo.php?script=sci_arttext&pid=S0041-47512013000300007
Tags: Add Tag
No Tags, Be the first to tag this record!