'n Skrifmatige perspektief op die geskiedenis van die Westerse intellektuele denke: Die ontstaan en kontoere van en vrae oor die konsekwent probleem-historiese metode

In opvolging van 'n vorige artikel in hierdie tydskrif (vgl. Van der Walt 2013), waarin verskillende vroeëre en hedendaagse metodes van intellektuele en veral wysgerige historiografie bestudeer is, word in hierdie artikel gefokus op die ontstaan en kontoere van die konsekwent probleem-historiese metode van wyle prof. Dirk H.Th. Vollenhoven (1892-1978) van die Vrije Universiteit in Amsterdam, Nederland asook die reaksies daarop. Wat, eerstens, die ontstaan van sy metode betref, blyk dat Vollenhoven dit oorgeneem het van twee Duitse laat-rasionalistiese filosowe van die Marburgse neo-Kantiaanse skool, naamlik N. Hartmann en R. Höningswald se "Problemge-schichtliche"-benadering. Hy het laasgenoemde egter volgens sy eie Christelike oortuigings aangepas, sodat sy weergawe van die 2500-jarige Westerse denkgeskiedenis ook anders daar uitgesien het. Tweedens, is die kontoere van dié metode aan die hand van vyf kriteria nagegaan. Dit bied 'n konsekwente toepassing van Vollenhoven se eie religieuse en filosofiese oriëntasie in die drie hoofvrae wat hy aan elke denker stel; dit is konsekwent histories in die indeling van die geskiedenis in drie hooftydperke; konsekwent filosofies in die onderskeiding van talle opeenvolgende sinkroniese normatiewe strominge; konsekwent probleemgerig in die tipering van basiese diakroniese ontiese, antropologiese en kenteoretiese probleme; reeds suksesvol toegepas en aangepas waar nodig. In 'n derde hoofafdeling word aangetoon dat al Vollenhoven se tydgenote en opvolgers egter nie met so 'n positiewe evaluering van die metode saamgestem het nie, omdat dit onder andere te gespesialiseerd en selektief, met die gebruikmaking van onnodige en ingewikkelde terminologie sou wees en omdat dit die klem tot so 'n mate op filosofiese konseptuele probleme laat val het dat die persoonlikhede self (wat daaraan geboorte gegee het) asook die hele Westerse kultuurgeskiedenis op die agtergrond verdwyn.

Saved in:
Bibliographic Details
Main Author: van der Walt,BJ
Format: Digital revista
Language:Afrikaans
Published: Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns 2013
Online Access:http://www.scielo.org.za/scielo.php?script=sci_arttext&pid=S0041-47512013000300001
Tags: Add Tag
No Tags, Be the first to tag this record!