Die eksotiese element in Stefans Grové se musiek: 'n manifestasie van "kulturele vertaling"

Hierdie artikel word gewy aan 'n "komponis van Afrika", 'n reus van die Suid-Afrikaanse musiektoneel, wat in 2012 sy negentigste verjaardag gevier het. Stefans Grové is nog steeds aktief besig om te komponeer en om met ongekende kreatiwiteit en verbeeldingrykheid sy insig in en belewenis van Afrika as kunstenaar uit te beeld. Grové het gedurende die laaste drie dekades internasionaal bekend geword vir veral sy sogenoemde Afrika-reeks waarin hy sy unieke styl gevestig het. Hy het verskeie toekennings vir komposisie verower, onder andere twee eredoktors-grade, en sy naam verskyn in die vernaamste Engelse, Duitse, Nederlandse, Franse, Italiaanse, Sweedse en Sloweense ensiklopedieë (Grové 1990:28). Grové is op 23 Julie 1922 in Bethlehem in die Vrystaat gebore en het sy voorgraadse opleiding aan verskeie Suid-Afrikaanse inrigtings ontvang. In 1953 het hy met 'n Fulbright-beurs sy nagraadse studie in die VSA voortgesit. Twee jaar later verwerf hy 'n MA in musiekwetenskap aan die Harvard Universiteit, en hy ontvang ook 'n gesogte beurs om onder die bekroonde Aaron Copland by die Tanglewood-somerskool te studeer. Hy word in 1956 as lektor in teorie en komposisie aangestel by die Peabody Musiek-konservatorium in Baltimore, Maryland. In 1972 keer Grové terug na Suid-Afrika en is sedert 1973 dosent en later professor in komposisie aan die Universiteit van Pretoria (Grové 1990:28). In die daaropvolgende dekade begin Grové geleidelik om 'n vroeëre opinie, naamlik dat tradisionele Afrika-elemente nie as produktiewe bron van inspirasie vir ware Suid-Afrikaanse kunsmusiek kan dien nie, te hersien. Die gevolg was dat hy op die ouderdom van 62 jaar 'n koersverandering as komponis ingeslaan het. Grové begin in 1984, 10 jaar vóór die eerste demokratiese verkiesing in Suid-Afrika, om Afrika- en Westerse musiek te verenig in die Sonate op Afrika motiewe. Hierin vermeng hy Euro-en Afrosentriese style op onderskeidende wyse, en vandag is hy internasionaal bekend vir sy uitgebreide en wyd-uiteenlopende Afrika-oeuvre. In hierdie artikel val die klem op Grové se gebruik van die eksotiese element en sal aangedui word hoe 'n interpretasie daarvan 'n kulturele vertaling bewerkstellig. Meer nog, in vergelyking met ander Westerse en Afrika-komponiste is Grové se Afrika-geïnspireerde idioom, waarvan die assimilasie en herfatsoenering van Afrika-beelde en tradisionele elemente kenmerkend is, by uitstek die simbool van 'n rapprochement tussen die diverse kulture van Suid-Afrika (Muller 2006a:1-7).

Saved in:
Bibliographic Details
Main Author: Weyer,Waldo
Format: Digital revista
Language:Afrikaans
Published: Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns 2013
Online Access:http://www.scielo.org.za/scielo.php?script=sci_arttext&pid=S0041-47512013000200010
Tags: Add Tag
No Tags, Be the first to tag this record!