Die bydrae van Stefans Grové se Raka tot die Raka-diskoers

Die besondere plek wat N. P. van Wyk Louw se epiese gedig Raka in die Afrikaanse letterkunde beklee, het in die sewe dekades sedert sy eerste publikasie aanleiding gegee tot 'n "Raka-diskoers", bestaande uit letterkundig-wetenskaplike interpretasies van die gedig asook vertalings en kreatiewe werk (literêr of andersins) waarby Raka as interteks of subteks funksioneer. Hierdie artikel voer aan dat Stefans Grové se Raka - a symphonic poem in the form of a concerto for piano and orchestra (1996) 'n besondere bydrae tot hierdie diskoers maak, te wete die komplisering van dualismes wat dikwels in tradisionele lesings van die epos aangewys is, en die uitdrukking van 'n nuwe, postkoloniale begrip van die Afrikaner in Afrika deur die lens van die Raka-verhaal. Die dualisme tussen Raka en die stam waarvan Koki deel is, word gekompliseer deur die gebruik van die klavier om Raka én die stamlewe voor te stel, en die teenstelling natuur/kultuur word gekompliseer deur die gebruik van verwante musikale materiaal vir die voorstelling van Koki, die stamlewe en die natuur. Die problematisering van die kultuur/natuur dualisme bied die moontlikheid van 'n bydrae tot 'n postkoloniale lesing van die epos, waarby die spontane verbondenheid van die mens aan die natuur as ideaal voorgehou word, sodat die versteuring van so 'n balans (soos byvoorbeeld deur die koloniale vestiging van Westerse kultuur) afgewys word. Omdat Grové se musikale uitbeelding van gebeure wat in Van Wyk Louw se epos gesuggereer word, die Afrikaanse versvertelling verplaas, kan aangevoer word dat die Afrikalandskap dus ouditief op die voorgrond tree (byvoorbeeld deur die uitbeelding van outentieke voëlgesang) terwyl die Afrikaner eerder in die agtergrond teenwoordig is.

Saved in:
Bibliographic Details
Main Author: Wium,Matildie Thom
Format: Digital revista
Language:Afrikaans
Published: Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns 2013
Online Access:http://www.scielo.org.za/scielo.php?script=sci_arttext&pid=S0041-47512013000200009
Tags: Add Tag
No Tags, Be the first to tag this record!