Nut of' gees? Die stand van die geesteswetenskappe in Suid-Afrika

In hierdie bydrae word die bevindinge en aanbevelings van die Academy of Science of South Africa (ASSAf) se verslag oor die toestand waarin die geesteswetenskappe in Suid-Afrika verkeer wat in 2011 gepubliseer is, krities onder die loep geneem. Na 'n kort opsomming van die belangrikste gevolgtrekkings van die verslag, word 'n kritiese blik op die metodologie van die sogenaamde "konsensusstudie" gewerp. Daarna word die aandag gevestig op bepaalde vooronderstellings waarop die wyer debat rondom die stand van die geesteswetenskappe berus. ASSAf se bevindinge op grond waarvan hulle ook bepaalde aanbevelings maak oor hoe die gediagnoseerde krisis aangepak kan word, poog om 'n aantal van hierdie problematiese vooronderstellings te bevraagteken. By nadere ondersoek blyk hierdie (laasgenoemde) pogings egter net 'n skynprotes te wees teen die instrumentele logika van die heersende neoliberale bestel wat in werklikheid die verslag se pleidooi onderlê. Die belangrikste vooronderstellings sluit in: (1) die vooronderstelde waterskeiding tusssen die geesteswetenskappe en die natuur- of eksakte wetenskappe; (2) die onkritiese aanname dat enige vorm van wetenskap (ook die geestesweten-skappe) "regstreeks bruikbaar" moet wees. (3) Laastens, die vooronderstelling dat "die geesteswetenskappe" na 'n konsekwent gedefinieerde en koherente geheel verwys terwyl dit in werklikheid 'n sambreelterm is wat in verskillende kontekste (in díe verslag teenoor ander verslae asook die breër debat, byvoorbeeld) verskillend aangewend word en dikwels 'n ander versameling dissiplines saamgroepeer. Ten slotte, lig ek my pleidooi ten gunste van die "nieregstreekse bruikbaarheid" van die geesteswetenskappe toe aan die hand van die dekonstruktiewe strategie wat die binêre logika van nut-of-niks wil uitdaag met 'n "beide/en"-benadering wat daarop aandring dat die nieregstreekse nuttigheidswaarde van kritiek 'n noodsaaklike voorvereiste is vir werkbare alter-natiewe oplossings

Saved in:
Bibliographic Details
Main Author: Hofmeyr,Benda
Format: Digital revista
Language:Afrikaans
Published: Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns 2012
Online Access:http://www.scielo.org.za/scielo.php?script=sci_arttext&pid=S0041-47512012000400017
Tags: Add Tag
No Tags, Be the first to tag this record!