'n Voorlopige impakstudie van 'n vennootskapsprojek tussen universiteit, skole en die privaat sektor: hoop vir benadeelde studente danksy mentorskappe

Die Universiteit Stellenbosch verkeer onder druk om sy diversiteitsprofiel te verbeter sodat dit in lyn is met die transformasiedoelwitte van die regering soos uiteengesit in die Witskrif op Hoër Onderwys van 1997. Terselfdertyd is die Universiteit onder druk om 'n rol te speel in armoede-verligting van die benadeelde gemeenskappe rondom Stellenbosch. Die gehalte van die onderwys in die voorheen benadeelde skole is egter so swak dat baie min leerders uit hierdie gemeenskappe kwalifiseer om hul studies op universiteit voort te sit. In reaksie op hierdie uitdagings het die Universiteit 'n opvoedkundige filosofie aanvaar wat bekend staan as 'n "pedagogie van hoop" (Freire 1970). Dit het gelei tot die ontstaan van inisiatiewe soos die Rachel's Angels-skole-vennootskapsprojek, gegrond op die beginsels van gemeenskapsinteraksie. Die projek het ten doel om die kapasiteit van belowende leerders uit benadeelde gemeenskappe te verbeter met behulp van 'n mentorskapprogram sodat hul kanse op toegang tot universiteit sal verbeter. Hierdie artikel gee 'n oorsig van hierdie projek, waarna 'n impakstudie volg om te bepaal of die projek die verwagte uitkomste bereik het. Die bevindinge van die impakstudie dui daarop dat, uit die benadeelde skole wat aan die projek deelneem, meer leerders universiteitstoelating kry, groeipyne ten spyt. So word betekenis gegee aan die Universiteit se strewe na 'n "pedagogie van hoop".

Saved in:
Bibliographic Details
Main Author: le Cordeur,Michael
Format: Digital revista
Language:Afrikaans
Published: Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns 2012
Online Access:http://www.scielo.org.za/scielo.php?script=sci_arttext&pid=S0041-47512012000300005
Tags: Add Tag
No Tags, Be the first to tag this record!