Fundamentele massakommunikasienavorsing as 'n voorwaarde vir gesubstansieerde mediakritiek

Die kernargument in hierdie artikel is dat 'n "nuwe" samelewing en 'n "nuwe" gedigitaliseerde medialandskap tot 'n verlies aan diepgang en intellektuele kwaliteit in die media gelei het. Massakommunikasienavorsing, wat met 'n fokus op die effek, invloed, mag en tegnologie van die media self al hoe meer markgerig geword het, kon nog nie daarin slaag om 'n bydrae tot 'n verbetering in die kwaliteit van die media te lewer nie. Die rede is dat die fokus op die mark ten koste van fundamentele navorsing oor die media as kommunikasie geskied. Slegs deur weer te konsentreer op daardie fundamentele kommunikasiekonstrukte wat in die media werksaam is en wat die media as kommunikasie definieer, sal massakommunikasienavorsing weer 'n bydrae tot die verbetering van mediakwaliteit kan lewer. Die bydrae sou daarin kon setel dat dit mediamakers opnuut bewus maak en bewus hou van die verantwoordelikheid van dit waarmee hulle besig is, naamlik betekenisskepping en betekenisgewing oor die mens en die werklikheid en dat dit op 'n representatiewe, retoriese en dialogiese wyse gedoen word. Teen die agtergrond van hierdie argument word daar in die artikel aandag gegee aan (i) die krisis in die media (as kommunikasie), in die besonder die krisis van die joernalistiek (as die vlagskipgenre van die media), en (ii) die strekking van dekades se mediateoretiese, sosiologiese, politiek-wetenskaplike en kultuurstudiekritiek teen die media. In dié verband word die essensie van Pierre Bourdieu se uitwysing van die strukturele beperkings van die joernalistiek, Kenneth Minogue se uitwysing van die korrupterende instrumente van die joernalistiek en die joernalistiek as ideologie, en Frans Aerts se siening oor die banaliteit van die media, uitgelig. Ten einde die klem terug te plaas op die media as kommunikasie, en as basis vir 'n terugkeer tot meer fundamentele massakommunikasienavorsing, word vier kommunikasiekonstrukte ingelei: betekenisgewing, representasie, retoriek en dialoog.

Saved in:
Bibliographic Details
Main Author: Fourie,Pieter J.
Format: Digital revista
Language:Afrikaans
Published: Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns 2012
Online Access:http://www.scielo.org.za/scielo.php?script=sci_arttext&pid=S0041-47512012000100007
Tags: Add Tag
No Tags, Be the first to tag this record!