"Betrokke Kritiek" - Literatuurkritiek wat die wêreld verander?: Literatuurkritiek ná Teorie

Postmodernistiese literatuur en -kritiek het oor die afgelope paar dekades afgereken met die idee van 'n wit, westerse, manlike, monokultuur. Die idees van Derrida en Foucault het deurgesyfer tot op elke vlak van die literatuurkritiek en -studie met 'n gevolglike agterdog jeens algemeengeldende waarheidsaansprake en waardeoordele. Die humanistiese beskouing dat daar universele kwaliteite geld waarvolgens goeie kunswerke die goeie, ware en skone sou bevat, is ondermyn. Elke diskoers is 'n histories-ontstaande verhaal tussen ander verhale - met elk hulle eie kenmerke en wetmatighede en ook hulle eie praktiese magseffekte. In hierdie omstandighede het die taak van literatuurkritiek geword om daarop te wys hoedat alle tekste eintlik verhale is: hoedat terme na mekaar verwys en hulle betekenis verkry van hulle plek in die gestruktureerde geheel. Kritici is dus besig om te "dekonstrueer" ten einde aan te dui hoedat die bepaalde konstruksie uitsluitend is (en dus mag uitoefen). Die dekonstruksie van vooronderstellings en sekerhede versand uiteindelik tot 'n siniese relativisme, 'n ironiese lewenshouding waarin niks meer "werklik" is nie en waarin alles aanvaarbaar is: "anything goes". Die skrywer en kritikus wat hierdie idees onderskryf, raak wel ontslae van 'n uitgediende kultuurideaal, maar is dan self ook irrelevant. In hierdie omstandighede ontstaan die noodsaak vir "betrokke kritiek" - 'n soort kritiek wat (n.a.v. die idee van "betrokke literatuur") 'n aanspraak op die leser maak om volle verantwoordelikheid vir sy/haar eie menswees in die wêreld te aanvaar, 'n evaluerende kritiek wat nie terugkeer na uitgediende humanistiese opvattings nie maar wat wel waarde heg aan letterkunde wat ons belangrikste vrae en diepste emosies onderling deelbaar maak.

Saved in:
Bibliographic Details
Main Author: Burger,Willie
Format: Digital revista
Language:Afrikaans
Published: Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns 2012
Online Access:http://www.scielo.org.za/scielo.php?script=sci_arttext&pid=S0041-47512012000100005
Tags: Add Tag
No Tags, Be the first to tag this record!