'n vergelykende studie van etiese persepsies tussen bestuur en werknemers binne die produksieafdeling van 'n multinasionale landboumaatskappy

Hierdie artikel het ten doel om die etiese profiele vir werknemers in die bestuursafdeling en werknemers in die produksie-afdeling van 'n multinasionale saadmaatskappy te ontleed, en om te bepaal of daar enige verskille ten opsigte van etiese persepsies in dié twee groepe is. Dit is vermag deur van 'n vraelys wat verskillende scenario's wat as potensieel korrup geklassifiseer kan word, gebruik te maak, en waarvan die ingesteldheid van die respondente ten opsigte van hierdie scenario's dan gemeet is. Beskrywende statistiek is gebruik om die etiese profiele te ontleed, terwyl praktiese betekenisvolheid, oftewel die effekgrootte, gebruik is om die verskille tussen die twee groepe respondente te identifiseer. Die resultate het getoon dat werknemers in beide die bestuurs- en die produksie-afdeling in die maatskappy sterk etiese profiele ten opsigte van die scenario's wat individuele gedrag meet, geopenbaar het. Aangaande scenario's wat die gedrag van maatskappye meet, is daar gevind dat beide bestuur en werknemers in die produksie-afdeling 'n aantal van hierdie scenario's as aanvaarbaar geïdentifiseer het. Wat egter opmerklik is, is dat hierdie scenario's as "grysgebiede" of sagte onderwerpe geklassifiseer kan word, waar daar nie duidelike riglyne ten opsigte van wat reg of verkeerd is, bestaan nie. Prakties betekenisvolle verskille is waargeneem vir vyf van die veertien scenario's tussen hierdie twee groepe, alhoewel werknemers in beide groepe steeds etiesgeneigde profiele ten opsigte van maatskappygedrag getoon het. Daar is tot die slotsom gekom dat werknemers in die maatskappy wel oor hoë etiese standaarde beskik, gebaseer op die etiese profiele van beide bestuurslede en werknemers in die produksieafdeling.

Saved in:
Bibliographic Details
Main Authors: Craven,Pieter, Bisschoff,Christo
Format: Digital revista
Language:Afrikaans
Published: Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns 2011
Online Access:http://www.scielo.org.za/scielo.php?script=sci_arttext&pid=S0041-47512011000300006
Tags: Add Tag
No Tags, Be the first to tag this record!