Dollarisering as ekonomiese oplossing vir die Zimbabwiese ineenstorting

Die ekonomiese en politieke verval van Zimbabwe duur reeds langer as 'n dekade en versleg toenemend. Weghol-hiperinflasie van ondenkbare afmetings, 'n werkloosheidskoers van bykans honderd persent en 'n verpletterde geldeenheid met letterlik geen eksterne waarde of aansien nie, kenmerk hierdie verval. Die katastrofiese afmetings van die volhardende sosio-ekonomiese en politieke tragedie dui op 'n nog bleker toekomsprentjie vir die land indien die huidige politieke onderhandeling nie beslissend aangepak word nie. Daar bestaan geen kits politieke of ekonomiese oplossing vir hierdie weersinwekkende situasie nie, maar ekonomiese herstel moet immers met sekere basiese ekonomiese hervorming stappe begin. Hierdie artikel stel dollarisering voor as 'n alternatiewe wisselkoers stelsel waarmee die ekonomiese wanorde wat tans die ekonomiese toneel kenmerk, opgeruim kan word. Dit verduidelik die term "dollarisering", die eienskappe daarvan sowel as die onderliggende rasionaal van die regime as 'n supervaste wisselkoersstelsel vir Zimbabwe. Daarna word die moontlike voor- en nadele van so 'n stelsel vir Zimbabwe uitgelig, gepaardgaande met 'n bespreking van randarisering as 'n moontlike alternatiewe oplossing. Dollarisering word as 'n moontlike oplossing vir Zimbabwe aanbeveel, maar randarisering kan ook met versigtigheid oorweeg word. Hoewel dollarisering op sigself sal help, sal dit nie 'n kitsoplossing vir die Zimbabwiese verval bied nie. Dit sal nie die huidige ramp oplos tensy dit deur ander wydlopende en geloofwaardige politieke en ekonomiese hervormings vergesel word nie.

Saved in:
Bibliographic Details
Main Author: Wessels,Buks
Format: Digital revista
Language:Afrikaans
Published: Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns 2010
Online Access:http://www.scielo.org.za/scielo.php?script=sci_arttext&pid=S0041-47512010000100004
Tags: Add Tag
No Tags, Be the first to tag this record!