Operasies Chuva en Moduler (fase 1): 'n Waardering van die SAW-UNITA-bondgenootskap, Mei tot Oktober 1987

In Julie 1974, nadat die Portugese Caetano-regering in n militêre staatsgreep omvergewerp is, het Portugal aangekondig dat hy bereid is om oor Angolese onafhanklikheid te onderhandel. Op 15 Januarie 1975 het Portugal die Alvor-ooreenkoms gesluit met die drie Angolese bevrydingsorganisasies, die MPLA, FNLA en UNITA, waarvolgens 11 November 1975 as Onafhanklikheidsdag bepaal is. n Volskaalse burgeroorlog het egter teen Augustus 1975 tussen die UNITA-FNLA-bondgenootskap en die MPLA uitgebreek. Die MPLA het die alliansie tot so n mate verslaan dat daar oor die algemeen verwag is dat UNITA en die FNLA nie daarvan sou herstel nie, maar mettertyd sou verdwyn. UNITA het egter die nederlaag oorleef en weer van krag tot krag gegaan - in so in mate dat hulle 'n definitiewe bedreiging vir die MPLA ingehou het. Die voortgesette burgeroorlog het teen die agtergrond van die Koue Oorlog (1945-1990) afgespeel. Suid-Afrika, gesteun deur die VSA, het UNITA ondersteun, terwyl die USSR en sy satellietstaat Kuba die MPLA gesteun het. Laasgenoemde het die kommunistiesgesinde SWAPO ondersteun en hulle in staat gestel om Namibië vanuit Suid-Angola binne te dring. Die SAW het gevolglik sedert 1975 verskeie transgrensoperasies van stapel gestuur om enige insypeling in Suidwes-Afrika vanuit Suid-Angola in die kiem te smoor. Die fokus van hierdie artikel is n evaluering van die UNITA-SAW-alliansie tydens Operasies Chuva en Moduler (fase een), Mei tot Oktober 1987. Binne die SAW was daar uiteenlopende sienings oor UNITA as n bondgenoot: aan die een kant was daar die siening dat die samewerking "breedweg en algemeen gesproke" goed was, teenoor die siening dat UNITA n onbetroubare bondgenoot was. Die waarheid lê waarskynlik tussen hierdie uiterstes. UNITA was vertroud met die plaaslike omstandighede en is ondersteun deur die plaaslike bevolking. Hulle het, ondanks gebrekkige konvensionele vermoëns, geen geringe rol gespeel in die sukses van Operasies Chuva en Moduler (fase een) nie.

Saved in:
Bibliographic Details
Main Author: Oosthuizen,Gerhard J.J.
Format: Digital revista
Language:Afrikaans
Published: Historical Association of South Africa 2012
Online Access:http://www.scielo.org.za/scielo.php?script=sci_arttext&pid=S0018-229X2012000200011
Tags: Add Tag
No Tags, Be the first to tag this record!